Die ongekende bakster…

Net ‘n voorwoord… Hier het ek myself en natuurlik ‘n paar van my vriendinne “surprise”!! Dalk nie aan die begin nie..maar wel soos ek gevorder en myself geleer het, lol!! Danksy Google, Tannie Marie, Annatjie en my eie deursettingsvermoë het ek myself op hierdie gebied wragties oortref…ek dink.

My eerste Bierboks koek – Mei 2018

John, ons voorman stuur een middag ‘n boodskap saam Roelf om te hoor of ek asb vir hom ‘n koek sal bak. Daai volgende oggend keer ek John voor om te hoor wat se koek hy wil hê. Hy sê hy soek ‘n boks koek, ‘n sjokolade boks koek.

Ek is glad nie ‘n bakster, en ek het nog nooit in my lewe van ‘n boks koek gehoor nie. Maar ek dog, hoe moeilik kan dit ook nou wees. Ek moet net probeer “uitfigure” wat de joos ‘n boks koek is, en hoe mens dit maak. Intussen het Google natuurlik my beste vriend geword hier op die plaas, en in ‘n japtrap ontdek ek wat ‘n bierboks koek is en hoe om dit te maak. Die enigste wat nie daarby is, is die versiersuiker resep. Daarvoor bel ek my vriendin se ma, en sê om haar resep aan te stuur. Die tannie is ‘n bobaas bakster.

So, met resep, bestanddele en al die ander gadgets in die hand, bak ek die koek. Ek is heel “impressed” met myself hoe die koek uitkom. Nou net die versiersuiker aanmaak en opsit. Ek gryp die resep en laat waai…lees nie lekker die hoeveelheid wat dit maak nie.

Die koek is koud, en ek smeer die versiersuiker op. Ek moet ‘n redelike “effort” aansit om die hele koek van hoek tot kant toe te kry…..die versiersuiker is te min! Ek het nie meer bestanddele om nog aan te maak nie…die dorp is 34 km heen en weer, en dis klaar te laat want dis al “tjaila tyd” vir die werkers en John kom sy koek amper kry. Wat ‘n katarsis!!

Die versiersuiker is papier dun op daai koek gesmeer en ek kry dit ook nie mooi glad nie, tsk! Ek kom op ‘n houer “hundreds and thousands” af, en sprinkel dit oor die koek met die hoop om dit beter te laat lyk.

Die versiersuiker resep sê genoeg vir een koek…wonder hoe groot is daai koek veronderstel om te wees, dink ek by myself. Maar nou’s dit daarna toe.

Ek staan terug en bekyk die koek…daar’s hy! Niks fancy, maar wragties my beste gegee…hopelik eetbaar.

Nodeloos om te sê, John het nog nooit weer ‘n sjokolade koek by my bestel nie.

My 2de probeer slag – Junie 2018

Koba begin by ons werk, en Junie 2018 vra sy ek moet asb vir haar ‘n verjaarsdag koek bak. Ek weet nogsteeds nie veel van koek bak, maar het intussen sulke klein botteltjies gekoop waarmee jy kan skryf as jy versiersel daarin gooi.

Dog nou gaan ek “grand” wees en op haar koek vir haar skryf, “gelukkige verjaarsdag Koba”. Ek maak tot ‘n blommetjie…staan terug en dink by myself, “wow nou het ek gevorder!… ek begin nou goed raak”.

Hierdie keer het ek die versiersuiker een en half keer aangemaak. Kamtig uit my vorige ondervinding met John se koek geleer. Maar duidelik was die versiersuiker nogsteeds te min.

Ek hoef nie verder oor daai koek uit te brei…want soos hul sê, “a picture is worth a thousand words.”

Intussen het Koba haar enkel gebreek, is vir ‘n hele ruk af van die werk. Ek kry haar eers weer terug om by my te kom werk nadat ek en Roelf in ons nuwe huisie, hier onder in die veld ingetrek het. Intussen het ek ‘n paar koeke gebak, so ek kon oefen en verbeter.

November 2021 vra sy of ek vir haar dogtertjie, Simonia ‘n verjaarsdag koek sal bak.

Simonia se verjaarsdag koek – Nov 2021

Ek is nogsteeds nie ‘n “pro” nie, maar ek wys Koba die foto van haar verjaarsdag koek teen Simonia sin. Ons lag lekker, en kan nie glo ek het so oor tyd op my eie verbeter nie. “Mevrou, jy het mooi reggekom. Kyk hoe mooi lyk die koek nou. Ek het nie gedink die koek gaan so baie mooi wees nie”, sê sy. Ek dink by myself, ek sal maar vir Koba ‘n ordentlike mooi koek moet bak vir haar verjaarsdag hierdie keer, en dit vir haar as ‘n geskenk moet gee. Daai arme eerste koeke van haar en John…shame!!

Dan gaan ek terug en ek kyk na die paar koeke wat ek gebak het. Van die eerste een af, en hoe ek gevorder het…en hoe ek dit geniet om so te kan “speel”, en ek kan nie glo dis ek. Wens net party dae ek het so oor kosmaak gevoel, tsk!

Die verskil is ek looove koek en ‘n ou soet dingetjie…kos is nou ook nie so great. Dis seker hoekom ek daarvan hou om die koeke te bak. Eet al die flops en versiersuiker. My mond is gewoonlik alle kleure van die reënboog as Roelf in die middag hier by die huis instap.

Ek onthou hoe ek gesukkel het om blomme te maak.. en nou nog. Ek voel al soos ‘n blom as ek net daaraan dink. Oefen, oefen, oefen…en nogmaals oefen. Flop na flop na flop…maar aanhou oefen. En dan die geskryf te oefen en al die goedjies wat so maklik lyk op ‘n koek. Elke liewe dingetjie vat tyd en oefen. En toe besef ek hoekom mens so duur betaal vir sulke spesiale koeke. Dis flippen harde werk, laaaang ure, partykeer oor begin, en wat als nog. En dan om als te kroon, werk ek so stadig soos ‘n slak natuurlik… En die kombuis lyk soos ‘n oorlog sone vir ‘n week lank. Roelf wil mal raak in daai tyd, want als staan vol koek goed. En ek werk van vroeg tot laat nag as hy al gaan slaap het.

Google het natuurlik hier ook my beste vriend geword, behalwe vir my vriendin se ma en dan natuurlik my skool vriendin wat haar eie bak besigheid het, en ongelooflike mooi koeke bak….al vir jare. Haar het ek mal gemaak met foon oproepe…wat moet ek hier doen…dis ‘n flop, wat nou?…het jy ‘n resep vir die ding…hoe maak ek daar… Ek dink sy wou later haar foon afsit as sy sien dis ek wat bel of ‘n boodskap gestuur het, lol.

Maar, as ek als saamvat, het ek nie te sleg gevorder…so op my eie aan gebrou…en ek klomp myself so liggies op die skouer..

Ek het ook intussen geleer om meer versiersuiker aan te maak….baaaaie meer!!

My lekkerste tyd natuurlik om koek te bak en versier, is stroop en plant tyd. Dan het ek heel dag om aan die koeke te werk. Want die manne kom nie huistoe vir middag ete, so ek hoef nie voor die kos potte te staan. Niks onderbreek my…net broodjies en koffie vir die mans land toe vat. Dan kan ek myself verloor in my “kunswerke”, lol.

Die koek bakkery is nou weer stil. Nou is dit weer konfyt kook en brood bak. Roelf sê ek doen ‘n ding net tot ek hom regkry, dan hou ek op daarmee, lol! Maar ek sal nie ophou met die koek bak nie. As ek nou bak om te oefen, weet ek net nie wie die koek sal eet nie….seker ek, lol

So ontdek ek my eie “versteekte talente”….as jy dit so wil noem. Maar ek dink enige een wat soveel keer aanhou soos ek, sal enige iets regkry.

En dan was daar natuurlik die “disasters” ook al!

Koek wat inmekaar val, uitmekaar breek, of nie gaar is. ‘n Minnie Muis wat lyk soos ‘n struik rower. Rose wat lyk of hul met ‘n hammer plat geslaan is. En room wat in karringmelk verander… om net ‘n paar te noem.

En so hou ek myself besig, bedrywig en uit die kwaad….een ding op ‘n slag.

Een van die flop koeke, het sommer ook nou ons gunsteling koek hier op die plaas geword. Dis nou as ek hom elke keer weer so kan laat flop. Moet sê, dis moeiliker om ‘n koek perfek te laat flop elke keer as om hom perfek te laat uitkom.

Ons gunsteling flop koek…met berries en room

One response to “Die ongekende bakster…”

  1. O wow well done! Jou koeke lyk so mooi en well done dat jy aangehou het! Wat ‘n mooi storie van uithou en aanhou.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar