
Dis Desember, die mielies is al in die grond..besig om op te kom. En as ek dit nie mis het, was ons laat met die plantery. Dis oor Kerstyd en die werkers is af. En, “die kalf is in die put”, soos die gesegde gaan. Dis net ek en Roelf op die plaas en daar moet tussen die mielies ge-rip word.
Roelf sê dis ‘n laaaang en stadige proses en hy gaan dae besig wees op die oop trekker. Ek kry hom uit my hart jammer. Ek sê, “maar laat ek jou help, hoe moeilik kan dit nou wees om ‘n trekker te ry!”
As ek terug dink, was dit seker uit desperaatheid of ordentelikheid wat hy op daai stadium “ja” gesê het…maar daar gaat ons af lande toe. Hy gee my die klein trekkertjie om mee te ry. “Okey, laat ek jou wys…jy moet jou voorwiele in die padjie hou, anders gaan jy my mielies plat ry”, sê hy. Ja, ja, hoe moeilik kan dit nou wees, dink ek by myself…ek kan mos bestuur. “Jy kan in die buitekant begin, want dis makliker, en nie sulke skerp draaie. En ek sal in die binnekant begin”, sê hy.
En daar gaat ek! Roelf ry eers ‘n entjie saam my om seker te maak dat ek dit reg doen. Hy: “onthou, jou voorwiele in die paadjie..en dan sal die tande van die ripper ook in die paadjies tussen die mielies rip..en nie te vinnig”. Reg so, antwoontwoord ek.
Nou is ek alleen…hy op sy trekker en ek op myne. Ek ry mooi stadig, en in die spoor. Dit vat laaaaank. Dog ek sal klein bietjie vinniger ry… En so gaan ons vir ‘n hele ruk aan. Hy wys naderhand ons moet stop vir ‘n koffie breuk…ek het ‘n fles koffie gemaak.
Hy sê, “ek wil jou iets wys”, en hy ry ‘n stuk om die land. “Kyk hoe plat het jy my mielies gery”. Ek kan nie glo wat ek sien….omtrent al die mielies aan die buitekant lê plat gery. “Ek het jou mielies vermoor! Ek is so jammer..”, sê ek amper in trane. Daai mielies lyk soos “pick up sticks”…PLAT!
Roelf het my verder laat rip, maar ek het so stadig gery van daar af, dat dit gelyk het of ek skaars beweeg. Maar ek was tevrede dat ek hom kon help.
Daai middag toe ons klaar gewerk is, wil Roelf hom dood lag, want my gesig is toe van die stof. Net die twee wit oë steek uit. Nou is jy behoorlik ingelyf, sê hy.

Van daar af het Roelf my Kriek leer bestuur en sommer ook een van die ander groter trekker. Dis toe ek leer om die land te disk op die 125 Case trekker.



Intussen leer ek ook om hoenders te slag en skoon te maak….die ou manier natuurlik! Sophia en Toti is my leermeesters. Dis flippen harde werk! Water in die drom kook, dan die hoender daarin sak om die vere sag te maak, dan vere uittrek…wat ‘n ewigheid vat, en dan die klein veertjies afbrand met ‘n kers of koerant papier.
Ja, ek het ook ge-eeewh en ge-yak die eerste keer. Maar gou besef dis waar ons kos vandaan kom hier op die plaas, en ek moet maar “man up”. Ek staan net nie by as die hoenders se koppe afgekap of nek omgedraai moet word nie…dan staan ek maar vir eers om die hoekie tot die daad verby is. Dan kan hulle my kom roep.
Ek onthou toe ek klein was, het my ouma-hulle (aan my pa se kant) op ‘n plaas ook hier in die Vrystaat gebly. Hulle het so rondawel tipe ding gehad met so lae muurtjie omgebou, en dan die grasdak op. Daarin het my ouma een keer ‘n hoender of gans se kop afgekap, en dié het al in die rondte gehardloop in daai rondawel met my binne in…met die bloed wat oral by sy nek uitspuit. Ek was amper dood! Gedink die afkop ding het my gejaag….al in die rondte. Flippen traumatiese storie, sê ek jou. Nou besef ek die ding het net gehardloop.
Ek het later gedink om ‘n “fancy” hoender ontveerder masjien vir my te koop, maar die prys is nie die moeite werd vir die min hoenders wat geslag word vir ons huis gebruik nie. So, nou kap ons maar die ou manier aan soos ons voor ouers dit gedoen het.
In die stad is ons so gewoond om net in ‘n winkel in te stap en jou trollie vol te laai, sonder om twee keer te dink waar dit vandaan kom, of hoe dit daar gekom het. Alles is so maklik en gemaklik.
Dit laat my terug dink aan toe ek net op die plaas gekom het. Een middag vra ek Roelf, “watter dag kom die vullis verwyderings mense verby?”. Ek sien hy kyk my met so “blank” uitdrukking op sy gesig aan. “Watter dae kom die asdrom mense verby, want ek sien hier lê nou al ‘n paar asdrom sakke hier agter by die waskamer”, vra ek weer vir hom. Wat se asdom mense, vra hy vir my. Die mense wat die vuilgoed sakke kom optel, sê ek. Nou al half geirriteerd, want wat noem hulle dan die mense hier, dat hy nie weet van wie ek praat.
Ek glo daai was ook ‘n oomblik wat hy by homself gewonder het of hy die regte ding gedoen het om dié stadsjapie plaas toe te laat kom het!
Hy sê kom ek gaan wys jou…en vat my buite, agter die huis na ‘n groot gat toe. Toti is die “asdrom mense” hier op die plaas, en die sakke word hier in die gat gegooi en uitgebrand. Geen trok gaan uit die dorp vir 32 km ry om vuilgoedsakke te kom oplaai. Hierdie is ‘n plaas, ons bly nie in die stad. Ek het nie eens twee keer gedink toe ek hom hierdie vraag gevra het. Ou dom stadsjapie….
Hy draai om vra of ek weet waarheen ons toilet riool gaan. Nou dink ek by myself..laat ek nou nie weer my naam met ‘n plank slaan nie! Ja, ek weet, ek weet!!, sê ek half opgewonde. Dog ek gaan hom darem nou kan “impress”. “Die Honeysucker kom uit en kom suig die gat leeg”. Dit weet ek, want die Honeysucker gaan altyd uit na my ma-hulle se plot toe om die gat leeg te suig as dit vol is. “Wat is ‘n Honeysucker?”, vra hy.
Hy wag vir ‘n antwoord, so ek sê maar, “die trok wat die gat kom leeg suig, soos by my ma-hulle”. Nee, ons bly op ‘n plaas en ons goed werk anders, sê hy en begin geduldig verduidelik. Toe weet ek, nou moet ek eerder net niks weer vra of antwoord, want ek gaan nie ‘n “comeback” kan maak van hierdie onnoselheid nie.


Intussen het ons groente in die tonnel mooi aangekom, en ook weer ‘n eerste vir my…kan ek twee bottels beet inlê. Nie baie, maar darem iets vir ‘n eerste probeer slag, lol.


Ek bewerk en vries my eerste worteltjie, en kry lekker tamaties vir my slaai uit die tuin. So ploeter ek elke dag aan en leer nuwe dinge soos die tyd verloop…
Die lewe is ‘n lied…..en ek vat hom elke dag aan op ‘n ander wysie….

Lewer kommentaar