Spekkers & Lienkie

Spekkers _en_Lienkie
Spekkers die varkie & Lienkie die Steenbokkie

Ek het mos nou die kamtige vark boerdery ook. ‘n “Useless exercise”, as jy my vra, want die varke kos ons meer aan voer as wat hul enigsins kleintjies maak. So, die “input” is meer as die “income”. Die ou wat die varke aan Roelf verkoop het, het nou wragties stok ou sôe aan hom verkoop. Hul was verseker van die wat saam Noag in die ark was, tsk!!

Met geluk het een vark toe kleintjies gekry. Maar die varke is so groot en swaar, dat hul, hul kleintjies raak en dood trap.

So bring Abel twee van die kleintjies eendag huistoe, want hulle is raakgetrap deur die ma. Die een is na ‘n dag of drie dood, maar die ander een oorleef. “Tuff” klein varkie, as jy my vra.

Spekkertjies ‘n paar daggies oud

Abel doop hom “Spekkers”, en die word voor die olie verwarmer in die tv kamer groot. Dis begin Mei 2018, en winter. Abel doen pajama drill in die nag om elke 3 – 4 ure vir Spekkers melk te gee. Deur die dag, is ek die kinder oppasser.

Melk tyd vir Spekkers

Een oggend, so by die 15 Mei rond, kom Abel se nefie om hul huishulp op te laai. Die huishulp vang elke oggend ‘n “lift” saam ons trokkie uit plaas toe, en dan weer terug dorp toe smiddae.

Hy stop voor die huis, en kom met ‘n klein steenbokkie in sy baadjie toegevou aangestap. Hy het haar doer onder by die turksvye in die pad kry lê, sê hy. Geen ma of pa naby, toe laai hy haar maar op en bring haar hierheen. Hy weet ek maak al die diere groot, en moet maar sien of ek met haar gaan regkom.

So word Lienkie deel van die familie

Lienkie

‘n Mens sal haar oral kan uitken, want haar een oortjie is heelwat kleiner as die ander een.

Ou Sproete neem haar natuurlik dadelik aan, en versorg haar heeltyd.

Lienkie slaap ook vir ‘n aand of 3 in die huis, maar toe wil sy uit. Sy slaap buite onder die bosse en bome in die tuin

Sy kry ook haar bottels melk elke dag soos ou Spekkertjies. En die tweetjies word sommer vinnig groot.

Melkie tyd vir Lienkie

Natuurlik raak sy en Spekkertjies groot vriende, want hul is omtrent dieselfde ouderdom. Ek sou sê die vriendskap het meer van Spekkers se spontane, oordonderende geaardheid gekom, as van Lienkie se sku een.

Spekkers & Lienkie…diere maatjies

Die dae gaan verby en die tweetjies hou hulself besig in die tuin…meeste van die tyd met kwaad doen.

Spekkers annekseer die honde se hok in die oggende as dit nog koud is, en slaap daar tot dit warm genoeg is vir hom om sy bas buite te wys.

Lienkie speel met die klein lammertjies wat huistoe gebring word, eet die honde se kos, loop in die vrugteboord rond en loop agter Sproete aan.

Spekkers word uit die huis en sy wasgoedmandjie gesit, want hy’s nou te groot om daar te slaap. ‘n Hokkie met ‘n rooi lig, om hom warm te hou in die nag word vir hom gebou. Eerste paar aande protesteer hy. Maar hy raak gewoond daaraan en slapies lekker warm in sy nuwe huisie in die nag.

Spekkers se nuwe huisie

Die tyd vlieg verby, en die twee word groter.

En natuurlik kry Spekkers nog sy bederf tyd in die aand… deur saam ons op die bank te kuier vir ‘n rukkie voor bed tyd.

Bederf tyd

Deur die dag hou Spekkers homself besig deur die grasperk voor om te dolwe, terwyl Lienkie by Sproete leer hoe om teen die kant, oor die”cattle grid” te loop, en uit by die erf…natuurlik sonder ons medewete. So gaan loop sy buite rond tot wie weet waar, tot ek haar eendag soek vir melktyd en buite kry. Daar was natuurlik geen keer aan haar gerondlopery nie.

Ek weet nie hoe lank daarna…maar ek weet die besluit was geneem omdat die grasperk gelyk het of ons dit geploeg het met die trekker. Sulke laaaaaang slote. Als Spekkers se werk. Toe sê Roelf, nee Spekkers moet kraal toe.

Natuurlik is hy nogsteeds ons “baba”, en vrot bederf…so sy kombers gaan saam kraalhok toe, en hy kry ‘n rooi lig vir in die aand om warm te slaap.

Hy moet die eertse ruk in die afgekampte kraal bly, want hy jaag al my skape buite…’n speletjie vir hom, terwyl my skape in ‘n toestand is.

Na ‘n ruk, toe hy gewoond is aan die skape, maak ons hom oop en hy begin saam die skape loop en leef. Hy het naderhand begin dink hy’s ‘n skaap. Want dis al wat hy gesien en geken het. Hy het sy eie mielies gekry, drie keer ‘n dag. Anders het hy maar oral staan en “forage” in die kampie.

Toe kom die dag dat Spekkers ‘n groot uitgegroeide vark is..en kry geite…daai ander tipe geite jy weet…. Wat ‘n nagmerrie!! Hy het sy bes probeer om my skaap ooie te dek, tsk!

Toe moet hy weer in die kraaltjie toegemaak word. Nou begin hy agressief raak. As ek vir hom kos of mielies gaan gee, dan storm hy my van agter en knyp-byt my op my bo been of kuit. So het dit vir weke gegaan. Elke aand kla ek by Roelf ou Spekkers raak “agro” want hy soek ‘n wyfie..en hy gaan my seer byt….maar als teen dowe ore natuurlik.

Eendag sê ek, “as julle more hier aankom het ek vir Spekkers geskiet, hoor my nou mooi…julle moet plan maak. Die vark hou aan om my te byt”.

Nou ja, ek dink nie een van ons wou regtig ‘n dooie Spekkers gesien het, so ‘n plan is gemaak. Ons het hom vir ‘n boer net hier anderkant gegee wat ook varke het. Die boer het vir Spekkers kom oplaai hier by ons. Ons harte was seer oor ou Spekkers ons moet verlaat, maar ek het geweet die helske vark gaan my op ‘n stadium byt. En ek het al te veel stories dalk gelees…en “movies” gekyk, lol.

Die boer bel ons so 3 dae of wat nadat hy Spekker hier kom haal het. Hy wil net sê, toe Spekkers van daai waentjie afklim, toe hardloop hy reguit na die trop skape doer anderkant toe, in plaas van na die klomp varke wat hier by hom was.

Ons het so gelag. Roelf sê toe vir die ou, “Spekkers ken nie varke nie, hy dink hy is ‘n skaap”. Og, dit was snaaks. Daai man kon dit nie glo.

Intussen het Spekkers agtergekom hy is eintlik ‘n vark, en is nou bleikbaar baie gelukkig tussen die ander varke. Ons dreig om ‘n draai te gaan maak om te gaan kyk hoe dit met ou Spekkertjies gaan….

Toe eendag het Lienkie die pad gevat en ek het haar nooit weer gesien. Ek het daai middag haar nog gaan soek om haar melk te gee, maar kon haar nêrens kry. Ek volg toe haar voetspoortjies af met die pad daar na die verkraal toe. Die verkraal is ‘n oop vlakte net buite die plaashuis waar die wild loop. Maar ek vind niks.

My hart is stukkend. Die dae het verby gegaan, maar sy het nie terug gekom. Ek het vir Roelf gesê ek vermoed ‘n jakkals het haar dalk gevang. ‘n Paar dae later sê Roelf die werkers sê hulle het haar hier onder by die land teen die draad sien lê….dis nou hier waar ons nuwe huis gebou is. Ek sê dis onmoontlik, hoe sal hulle weet dis sy. Die werkers het gesê die bokkie het een klein oortjie gehad, sê hy. Ja, net Lienkie het een klein oortjie!

Ek het hierdie grondpad van bo af land toe, seker honderd keer op ‘n dag gery en roep…maar niks. Ek dink nogsteeds ‘n jakkals het haar gevang.

Tot vandag toe nog….as ek ry en ek sien ‘n steenbokkie hier op die plaas, dan kyk ek vir die oortjies, met die hoop dat een van hulle dalk sy kan wees…en dat sy dalk nog hier rond is.

Lewer kommentaar