
Hello – Eureka hier, die skrywer agter Plaasstories & Boeretroos
My blog gaan oor elke dag se unieke gebeure hier op die plaas.
Reis saam met my deur my stories…..die wat jou hare laat regop staan, jou laat huil, laat lag en jou hart laat sag word.
As ‘n ingebore “city girl”, verlaat ek Pretoria in 2017 agter my groot liefde aan. En eindig op net buite Luckhoff in die noordwes Vrystaat……letterlik tussen niks en nêrens.
Die transformasie van stadsjapie na plaasjapie was ‘n onvoorbereide gedoente, en so begin ek my elke dag gebeure (plaas staaltjies) op papier sit.
‘n Vriend laat weet, “Jy skryf so lekker – asof jou woorde die verf op ‘n skilder se kwas is….Elke staaltjie is ‘n pragtige prentjie”. Hoop jy kan dit ook so sien…
Nou is ek ‘n boervrou…nie ‘n boer se vrou. Ek het die verskil gou geleer, want daar is blykbaar een. Boervrou, boer saam op die plaas…boer se vrou, het ‘n ander werk buite die plaas en het niks met die plaas te doen. So, ek hou my besig met kosmaak, bak en brou, my hanslammers grootmaak, varke, hoenders en alle ander diere wat gered en grootgemaak en versorg moet word.
Kry jou beker boeretroos, en kuier saam.
Eureka
