Hout Ma

te_veel_lammers_te_min_hande
Te veel skapies en te min hande om melk te gee

Dit gaan nou rof in die oggend met melk tyd…hopeloos te veel lammers en te min hande. Ek en ou Sophia moet nou ‘n plan maak. Ons dink ons sal 5 lammers uit die kraal lok, en buite toemaak terwyl ons gou die ander 5 binne melk gee…en dan die proses weer omruil. Dis een helske gesukkel.

Neeeeee Sophia, so kan ons nie aangaan! Ons sal met ‘n ander plan moet opkom, sê ek een middag vir haar.

Ek het mos nou al ‘n paar video’s gesien, en besluit om ‘n hout ma te bou. Ek teken die plan op papier en vat dit vir Roelf…verduidelik mooi hoe dit moet lyk, en vra dat hy vir my dit moet bou. Daai naweek is Roelf hard aan die werk, en tjoef tjaf is die hout ma aanmekaar.

Die hout ma word bo by die kraal afgelaai, en ek en Sophia kan nie wag om haar uit te toets. Dis melk tyd…nou om die lammers te leer om by haar te drink. Dit vat nie lank, of almal is gewoond, en val gou elkeen op hul plek in. En moet nie dink jy ruil hulle om!!…elkeen het sy plek, elke drinktyd en hy of sy hardloop vir daai plek. As een op ‘n ander se plek gaan staan en drink het, dan kry jy nie die een wie se plek dit eintlik is om sommer tiet te vat nie. En mense sê skape is dom…..

Die Hout Ma werk soos ‘n droom!

Dit gaan maar bietjie rof met klein en groot wat saam drink, maar die hout ma doen haar werk.

Nie almal pas in op die Hout Ma, so die heel kleintjies drink nogsteeds uit die hand uit. Maar dit was nou die beste idee waarmee ek nog vorendag gekom het.

Intussen het ek vir Reën, Droogte Oortjies, Vlekkie, Smoekie, en ‘n hele lot ander bygekry.

My en Sophia se dae begin nou deur melk te gee, dan deur die hele kamp te loop om te kyk of al my groter skape en Abel se bokke okey is. Kyk vir een wat dalk siek is, sukkel met geboorte gee, in die kraal ingejaag moet word met haar kleintjie/s…al sulke dinge. Partykeer hou dit ons tot twee ure besig by die kraal.

Ek leer noodgedwonge hoe om my skape in te spuit as hul siek is…Roelf kan nie altyd dadelik help. Ek leer van prolapse, en hoe om ‘n lammer uit te trek as ‘n boerbok ooi sukkel met geboorte… (en “Dr Pol” op TV se program raak my diere bybel). Dit moes ek ook noodgedwonge eendag doen toe een van Abel se bokke gesukkel het om geboorte te gee.

Daai dag bel ek Abel, en sê daar’s moeilikheid. Hy sê ek moet Toti vra om die kleintjie uit te trek…hy het dit al gedoen. Nou staan ek, Sophia en Toti daar.

EK sê,”Toti oubaas sê jy moet jou hande indruk en daai kleintjie uittrek, jy het dit mos al gedoen”. Hy staan stok styf, groot oë en verbaas. Ek sê en nou? Hy sê, “neeee ek het dit nog nooit gedoen”. Ek dog wel, dis nou of nooit…altyd ‘n eerste keer vir als. Ek hardloop en was my hande, en hurk by die ooi. Ek moet my hande indruk, en die kleintjie se voete probeer kry. Die voetjies is agtertoe gedraai, dis hoekom sy sukkel om geboorte te gee. Die skouers haak vas. Net om ‘n hand in te kry by daai agterkant is ‘n geswoeg en sweet. Ek sukkel my as af….rus bietjie, en probeer weer. “Toti, is jy seker jy weet nie hoe”, vra ek weer vir Toti. Nee kleinmies, antwoord hy. En jy Sophia? Jy vertel my dan elke dag jy’s pure plaaskind!? Sophia, lag verboureerd…neeee mevrou! Na wat soos ‘n ewigheid voel, en sopnat gesweet in die bloedige son, kry ek die lammerjie uit…en hy lewe!! Ek is trots op myself dat die stadsjapie nog iets kon regkry en leer.

Roelf kom een aand by die huis, en vra vir my of ek weet hoe dit daar by die kraal klink as ek daar is. Ek vra hom wat bedoel hy. Hy sê, hy was daai oggend by die dam op die koppie, agter die skaap kraal…toe hoor hy ek is besig om met iemand te baklei. Toe hy mooi staan en luister is ek besig om my lammers te skel…”nee hierdie kant toe…wat soek jy daar….jy moet hier staan…het jy nie ore nie, ek het jou geroep…..kom drink jou melk, ek het nie heeldag tyd, en, en.

Ek kan maar net lag. Ja, dit gaan maar rof partykeer by die kraal. Veral met die groter skape. En hulle het mos ore, hulle moet luister.

Intussen het my hoender boerdery ook goed begin aangaan. Ek’t vir my ‘n broeimasjien aangeskaf, en die eiers wat nie klaar uitgebroei was deur my henne, daarin gesit vir die laaste gedeelte. Klein Piep was my eerste kuiken wat uitgebroei het van al die klompe eiers.

Daarna nog ‘n klomp. Ons het hulle sommer in die huis gehou vir ‘n rukkie en dan hok toe gevat. Maar gou geleer ons sit hulle sommer gou-gou onder ‘n ander ma wat net klaar haar kuikens uitgebroei het om saam groot te maak…anders pik die ander hulle dood as hulle nog klein is.

Piep het maar as ‘n hans hen groot geword by die huis, tot sy uitgegroei was. Sy en ou Sproete, ons skaaphond was groot vriende. Dink eerder Sproete het gedink Piep is haar kind. Sproete is maar baie moederlik met als wat aangedra en grootgemaak word by die huis. Toe Piep groot is, is sy af hoenderhok toe.

Ek raak gewoond aan die lewe op die plaas, en leer elke dag iets nuuts. Met eie wil of noodgedwonge…maar ek leer!! In ‘n baie kort tyd leer ek seker meer dinge as wat ek in my hele lewe geleer het.

Tussendeur leer ek vleis bewerk en Sophia leer my kos maak.

My eerste wildspastei

Dit gaan maar rof met die kosmaak. Sophia moet my ALS leer. Van boontjies maak, pampoen maak….al wat ek weet is hoe om rys te kook. Ek en Roelf het al hier onder in ons nuwe huis gebly, dan bel ek Sophia daar bo…”Sophia, wat kom nou weer als in die boontjies?” Nee mevrou, hoe vergeet jy dan als? Dis aartappel en ui, het sy my dan altyd geskel.

Met die pampoen het sy amper ‘n oorval gekry toe ek water wou bygooi om dit te kook. Net botter en suiker, mevrou! Maar die tjoppies het sy altyd bietjie “ge-overcook” het Roelf gekla.. Dit moes Roelf my leer.

Eendag sê Roelf ek moet sommer pap en wors maak vir middag ete….dink dit was ‘n Saterdag. Die slappap het ek nou al by Roelf geleer maak. Nou staan ek met die pakkie wors in die hand. Het nie ‘n idee hoe om dit gaar te maak. Weet ek moet dit in die pan gaarmaak….maar in wat? Ek sit toe die wors in die pan, en gooi water by, en sit die deksel op. Nou ja, die wors het gaar gestoom. Lekker ou bleek wors. Roelf kon nie glo ek weet nie eens hoe om dit te doen. Toe moes ek hom net weer herinner dat ek hom gesê het ek kan nie kos maak. Ek dink nie hy het daai tyd my baie ernstig opgeneem. Hy moes my toe wys hoe om wors gaar te maak.

Ander middag kom Roelf en Abel by die huis vir middag ete, en vind my in trane. Ek huil dat die trane letterlik spat. Altwee is nou heel verboureerd. Wat gaan aan, vra hulle. Ek is gatvol vir die kosmaak, ek kan nie meer, als is ‘n boggerop….ek het die wors verbrand, huil ek. Hulle kyk in die pan…die wors het net bietjie bruin “geskroei” op die buitekant.

Van daar af, as middagete kom, en Abel stap in, “eet ons huil kos vandag”, sal hy vra. Ek lag by myself as ek aan sy opmerking dink. Abel grappetjies…

3 reaksies op “Hout Ma”

  1. Sjoe Eureka, ek geniet jou plaas-stories vreeslik baie!! Kannie wag vir die volgende een nie… Mooi bly en geniet elke oomblik xxx

    Liked by 1 person

  2. Thanks for sharing! Jy is so kreatief en oorspronklik. Well done. Barbara

    Like

  3. Love jou stories en so bly jyt n blog begin xxx kosbaar

    Like

Lewer kommentaar