
Julie 2017 kry ek my eerste “wees skapie” om groot te maak. Roelf was daai dag by sy skape in die veld, en kom by die huis aan met die klein lammertjie. Hier is jou eerste lammer om groot te maak, sê hy. Wat moet ek doen, vra ek. Wat sal ek nou weet…’n stadsjapie…
Roelf gaan maak bietjie melk aan en wys my hoe moet ek die lammer hou en melk gee. Daarna soek ons ‘n boks, sit ‘n kombers in, sit die lammer in, en die boks in die kombuis. Nou moet ek die lammer elke 3 tot 4 ure melk gee.
Dis winter, en baie keer loop die ooi weg vir haar jongste lammer….veral as sy ‘n tweeling gehad het, sê Roelf toe ek vra.
Ek voel nou soos ‘n volwaardige boervrou!! Ek het my eerste lammertjie om groot te maak. Nie dat ek enigsins ‘n “clue” het hoe om dit te doen nie, maar ek gaan my beste gee. Ek is te opgewonde…en Sophia, my ou regterhand is ook daar om te help.
Ek noem hom Snowy…hy is dan so wit soos sneeu.
Melk tyd!! Ek vra Sophia om my te wys hoe die melk aangemaak moet word. In ‘n 500ml koeldrank botteltjie, meet soveel melkpoeier af, dan die lou water, skud, en trek die tiet so oor….sy wys my.
Die tweede dag maak ek die melk aan, en probeer die tiet opsit. Dit het heel maklik gelyk toe Sophia dit gedoen het….jy druk die tiet se eenkant met jou linker duim vas, en dan trek jy hom oor met jou duim en wysvinger van jou regterhand..oor die bottel se nek. Die bottel gly, en ek skiet daai kombuis se hele dak, mure en vloer vol melk. Nou moet ons die melk oormaak, en kombuis skoonmaak!! Sophia sit jy maar die tiet op…
So het dit vir ‘n paar dae aangegaan. Elke 3 tot 4 ure se melkbottel het ek probeer om daai tiet op te sit, en elke keer was die dak, mure en vloer vol van die melk.
Eendag trek die melk weer die hele wêreld vol, na nog ‘n onsuksesvolle poging van my. Ek is nou redelik gatvol verby murmureer ek…. “Daai naels mevrou”, sê Sophia. Ja, ek weet, my naels gaan dit nooit op hierdie plaas hou nie, sê ek vir haar. “Nee, jou naels is te lank”, sê sy. Op daai stadium het ek nog my lang naels van die stad gehad. Ek bars uit en lag. Jy loop seker lankal met daai gedagte in jou kop Sophia, dan gaan ek dit nou sny. “Ja Mevrou, mens kan nie met sulke naels op die plaas werk nie”, sê sy en begin lag.
Dit het nie dadelik gehelp, maar was definitief die oplossing tot die probleem. Na ‘n ruk het ek wel die tiet oorsit onder die knie gekry. Dit het net baie oefening gevat.
My les wat ek daaruit geleer het..jy is waaragtig eers ‘n volwaardige boervrou as jy daai toet oor ‘n bottel kan sit!!
Intussen kry ek vir klein Doppie en Sprinkaan by.
Dis yskoue winter hier, en Roelf sê die lammertjies moet buite in die hokkie slaap…hulle is nou al bietjie groter. Agter die ou plaashuis is daar ‘n kraal met hokkies wat Abel eintlik vir sy boerbokke gebruik, en ek annekseer dit vir my skapies.
Ek sit Doppie en Sprinkaan in ‘n hokkie vir die eerste nag se slaap. Die volgende oggend is hulle amper verkluim van die koue. Ek wil huil! Ek sê vir Sophia hulle sal doodgaan van die koue, want hulle het nie ‘n mamma wat hul warm kan maak in die nag…ek gaan ‘n plan beraam.
Ek kommandeer Toti, die tuinman (hy gee ook Abel se boerbokke kos en maak die kraal skoon), op om vir my ‘n “extention cord” te gaan kry. Ek plug dit by die waenhuis in, voer hom deur na die skapies se hokkie toe, en gaan haal die olie verwarmer in die huis, en sit dit in die hokkie.
Dis nou lekker! Die skapies gaan van nou af lekker warm slaap. Die twee kom staan sommer gou by die hitte van die verwarmer.

Daai middag 1 uur kom Roelf en Abel huistoe vir ete, en ek vertel hulle van my briljante plan wat ek gemaak het. Dog hulle kry ‘n oorval! Ek sal die kraal afbrand, sê hulle. En ek moet dadelik die verwarmer gaan afsit en uithaal… Nou is my hart seer…wat van my skapies wat so koud kry!!
Abel met ‘n hart van goud! Hy gaan en sit ‘n rooi liggie in die hokkie op, sodat my skapies nogsteeds warm kan slaap. Nou is die Kaap weer hollands vir my!!

Een oggend gaan ek en Sophia kraal toe om melk te gee, en kry vir Doppie en Sprinkaan altwee dood. My hart skeur uitmekaar, en ek is ontroosbaar. Hulle is dan my kinders…elkeen met hul eie persoonlikheid. Ons weet nie waarvan hulle dood is.
Roelf weet nie hoe om my te troos. Ek moet dit maar uit huil. Hy sê later vir my, dit sal beter word met die tyd as ek ‘n skaap verloor…..dit het nog nooit.
Intussen kry ek vir Botter en Milo
Ek besluit die skapies kry te koud deur die dag as hulle uit die hokkie is, en moet weer ‘n plannetjie beraam. Dink by myself, wat sal nou lekker werk.. “n baba vest!!…net om die lyfie warm te hou.
Ek gaan koop baba vests by Pep, roep Sophia en en trek dit vir die skapies aan. Nou sien ek, neeeee, die rammetjies piepie die wessies nat….rol dit eers aan onderkant op. Maar nou is die ruggie te oop. Beraam nog ‘n plannetjie…sny ‘n “V” uit aan die onderkant by die magie. Ja, dit werk beter. Wat dink jy Sophia, vra ek. Ja mevrou dit werk goed, sê sy.
Vandag as ek terug dink, het sy seker lekker gelag as sy in die aande in die trokkie oppad in dorp toe vir die ander vertel het wat ek als met die skape aanvang. Seker ook die eerste keer in haar lewe dat sy ‘n skaap met klere aangesien het.


So kom einde Julie 2017, en dis regtig bitter koud. Ek sien die vessie bedryf help nie veel. My lammertjies kry regtig koud deur die dag as hulle buite die hokkie is. Moet maar weer ‘n ander plannetjie beraam. Ek besluit om ‘n jurkie te maak van ‘n baba kombersie vir ‘n toetslopie. Dit werk lekker, maar die wind waai die agterkant op…sal ander plan moet maak.

Ek gaan vir hulle lekker warm jassies maak, besluit ek. Maar hier’s nie ‘n materiaal winkel op Luckhoff. Tweede beste ding…flennie baba kombersies van Pep. Dog by myself, dit kan nie te moelik wees. Ek moet dit net op dieselfde prinsiep maak as daai jassies wat die mense vir hul honde aantrek.
Gelukkig het ek ‘n naaldwerk masjien aangeskaf voordat ek plaas toe gekom het. Nie dat ek kan naaldwerk doen. Maar het gedog ‘n boervrou moet seker so iets hê vir die wis en die onwis. Baie goeie kopie gewees, sal ek later van tyd agterkom….en het met bietjie “common sense” myself goed van my taak kwyt geraak op die ding.
Ek maak my eerste “Lambsie” binne 2 dae, en 2 Augustus 2017 is hy klaar. Ek is so “chuffed” met myself en kan amper nie glo dis my handewerk. Nou moet ek en Sophia net gaan kyk of dit pas. Die Lambsie pas perfek! Ek is in my noppies.
My eerste lambsie word vir Snowy aangepas


So kom en gaan die Augustus dae, en by einde Augustus het ek 5 skapies. Snowy, Sokkies, Heidi, Botter en Milo. Intussen het ek nog Lambsies gemaak. Snowy is nou al groter, en alhoewel hy nie meer ‘n Lambsie hoef te dra, kom hy nogsteeds aangehardloop as dit aangetrek moet word. Hy soek sy jassie om aan te trek. Ek en Sophia wil ons dood lag daaroor. Dat ‘n skaap nou so mal kan wees oor ‘n jassie!
Heidi, Sokkies & Milo kry die ander Lambsies vir die koue.


Ek roep vir Roelf, hy moet kom kyk hoe lyk my skapies in hul jassies. Ek glo Roelf het op daai oomblik gedink, wat het hom besiel om ‘n stadsjapie te vat en te laat plaas toe kom. Hy het eerder net gesê: “nou vir wat maak jy nie vir al die lammers in die veld jassies, sodat hul ook warm kan kry”. Ek het nie gedink hy is snaaks nie. Die veld lammers het mamma’s teen wie hulle kan lê en warm kry…myne het nie. So het hy my maar laat begaan. Gesien hy gaan nie ‘n ding uit my kop kry, as dit eers daar vasgesteek het.
By einde Augustus 2017 het ek 10 hanslammers. Ek is skatryk!!
Snowy, Botter, Milo, Sokkies, Optel, Heidi, Klippies, Wanda, Abel en Coco.
Maar nou gaan dit rof met die melk gee. Tussen my en Sophia is daar 4 hande en 2 stelle knieë. So ons kan 6 lammers op een slag melk gee. Partykeer hou Sophia twee bottels met elke hand vas en ‘n bottel tussen die knieë. Daai’s ook weer ‘n ander “trick” wat mens moet baas raak. En dit gebeur ook weereens nie oornag.


So het Sophia, my ou regterhand my geduldig geleer, en ek het gou agter die kap van die byl gekom. Partykeer het ek vergeet, dan moes sy my weer wys. Geduld met my, en liefde vir die diere het sy baie van gehad…..

Lewer kommentaar