
My Cabriolet word in die waenhuis getrek, want dié is definitief nie gemaak vir plaas paaie. Roelf gee my sy Land Cruiser om mee rond te ry, en ek voel skielik soos ‘n regte boervrou.
Dit het natuurlik nie lank gehou, of ek is “ge-demote” na “Rampoentjie”, ‘n “burned orange” Ford Bantam bakkie. Roelf het staan en jakkals jaag daar anderkant in die pan met sy plaas bakkie…gedink dié kan swenk soos ‘n jakkals en die bakkie toe eerder laat vassteek, gat-oor-kop omgegooi en afgeskryf. Toe moet hy die Land Cruiser kry.
Ek het verlief geraak op ou Rampoentjie. Sy kon sit soos ‘n steeks donkie op ‘n grondpad, nat pad, modder pad…
Ons twee het tot ‘n weerlig straal deurstaan en oorleef! Daai was nou vir jou ‘n ander gedoente, tsk! Ook nie so lank terug nie, mind you.
Ek en Roelf het toe al in ons nuwe huisie hier onder in die veld by die lande gebly. Abel en sy vrou het die groot ou plaas huis gekry nadat hulle getroud is.
Die weer was snaaks, want die lug was oop, maar die blitse het geslaan. En hier slaan die donnerweer tussen die koppe dat dit klink soos oorlog. Ek vat die draai onder by die land, oppad na ons huis toe…met dié sien ek Abel in sy bakkie aan die anderkant van die draad. Ek was nog besig om te waai, toe daai weerligstraal hier langs my op die draad slaan, en ek dink op Rampoentjie se canopy.
Ek sien net een helske oranje bal saam met die slag. Ek dog….nou is Rampoentjie in die middedeur afgeslaan, en ek trap daai petrol. Dog, nou ry ek maar met twee voorwiele tot by die huis, en los die agterkant van die bakkie net daar in die pad!
My foon lui, dis Abel..”tannie is jy okey!? Ek het net een groot stof wolk gesien by Rampoentjie toe die weerligstraal daar slaan”. Abel ek sweer die bakkie is middeldeur geslaan! Ek dink ek het nou met net die twee voorwiele tot by die huis gejaag, en die agterkant van die bakkie staan nog daar in die pad, sê ek vir hom. Abel bars uit en lag..”die bakkie is nog heel. Dink daai weerligstraal het net langs die bakkie in die grond vasgeslaan”, sê hy.
Ek gooi sommer vir my ‘n bietjie van Abel se mampoer en sluk dit af, toe ek by die huis instap…..net om die senuwees weer onder beheer te kry. Dat ‘n stadsjapie so vuurdoop moet kry…
Op ‘n dag het daar net ‘n snaakse klap geluid by Rampoentjie se agterwiel begin…seker ‘n “wheelbearing”. Maar Roelf-hulle het nie tyd gehad om te kyk, en die garage op die dorp vat ‘n ewigheid met ‘n kar. So, toe word ek weer “demote” soos ek hom roep….na Sarina toe.
Sarina is ‘n ou Tolla bakkie (Toyota Stallion). Sy het ‘n sink dakkie agter op wat lyk soos ‘n “shanty”. Roelf het dit jare terug opgesit toe hy begin boer het, om sy werkers te vervoer…sodat hulle nie nat reën en so aan. Haar petrol gauge het nie meer gewerk, so ek moes raai, raai, riepa….gaan ek ry of gaan ek staan. Maar n egte antique. Ek was geëerd om met haar te kon ry…
Net soos met Rampoentjie, het ek met Sarina ook oral heen gery…selfs dorp toe. Maar daai girl was bietjie los. Jy moes klou vir al wat jy kan as sy gery het. Jy’t elke klippie, hobbel, gaatjie gevoel. En haar stuurwiel was bietjie los, so jy moes kan weet van bestuur. Dis nou die kere wanneer sy jou nie in die steek laat, en tussen niks en nêrens gaan staan. Dan moes ek vir hulp bel, sodat Roelf of Abel die petrol pyp of iets moes kom skoon suig, want roes van die petrol tank het dan dit toegepak. Dit was my en Sarina se liefdes dans.
Tot op ‘n dag wat iets anders ook weer fout was, en Roelf vir Sarina ook weggevat het af land toe. Toe is ek “footloose”…. tot op ‘n dag dat ek sien Abel se ou plaas bakkie staan hier voor ons huis. Nou ry ek maar met hom. Die sitplek is natuurlik hopeloos te ver agtertoe, so ek lê tipe van om net by die clutch by te kom. Maar, solank sy wiele rond is, ry ek hom. Net nie dorp toe nie, want dis te ver en my rug en been sal af wees. Intussen dorptoe nou..sommer Roelf se vakansie Ford bakkie.
Ek is seker die rykste boervrou hier rond, want het die meeste karre in die kortste tyd al gehad, lol.

Lewer kommentaar